Uit Die Hart

2020 ‘N VERLORE DROOM

‘n Paar dinge staan vas as dit by ons kinders kom.

Elke oggend wat ek wakker word, is ek van vooraf lief vir hom (al wou ek gister daai basvelle afgetrek het). Elke ouer wil sy kind beskerm teen slegte ervarings van die lewe (boelies, vernedering, siekte, diskriminasie ens). Elke ouer wil vir sy kind meer gee as wat hy gehad het. Elke ouer wil dat sy kind sy volle potensiaal bereik.

Ons kinders se talente strek oor vele terreine soos intellektuele vermoëns, musiek, kultuur, sport en vele meer. Vanoggend se klippie in my skoen is die sport en hierby sluit ek in alle wintersport vir 2020. Hokkie, netbal en rugby tree na vore. Spansporte, sporttoere, geborgde opwarmingshempies, strekoefeninge, kameraderie, “Deep Heat” spanpraatjies, pleisters, sweetbande, adrenalien en die “coach” se laaste praatjie voordat hulle deur die tonnel draf ”onthou dit gaan nie alles oor wen nie”.

Daardie tye vorm deel van soveel van ons “kan jy nog onthou” oomblikke. Braaivleisvure, reünies en gesinspraatjies en jare later weerklink dit nog in die gange.

Dit bring my by die twee “C’s”, die Covid-19 en die Cravenweek. Soveel jong manne gaan nooit weet of hul die span sou haal nie. Die groep van hierdie jaar sal nie sy provinsie se wapen op sy bors kan dra nie. En elke ander wintersport sal atlete hê wat dieselfde gaan beleef.

Vir sommiges sou dit ‘n groot-oomblik eerste ervaring wees, en vir ander ‘n groot-oomblik laaste ervaring.

sCool Stuff en sy personeel is teleurgesteld saam met elkeen wat hierdie onvergeetlike 2020-belewenis gaan misloop. Ons is hartseer vir elke onderwyser wat hard gewerk het aan voorbereiding en wat hoë hoogtes gekoester het vir die “dream team”. Ons is hartseer saam met elke ouer wat nie sy kind sal kan sien blom op die sportveld nie.  

Covid-19 het beslis die wêreld op sy kop gedraai en daarmee saam ons beplannings en verwagtings.  U kan egter verseker wees van ons ondersteuning aan elkeen wat staan, sy kop oplig, en die nuwe toekoms sien as ‘n uitdaging wat die hoof gebied moet, en kan, word.

Ons gebed vir elkeen is vrede, kalmte en gesondheid.

sCool Stuff-groete